Hoekom moet ons die Bybel lees?

As ’n persoon aan enige sport deelneem is dit algemeen bekend dat jy moet oefen om sterk en fiks te wees om aktief deel te neem aan jou betrokke sportsoort. Net so in die Christelike lewe moet ons as kinders van Here onsself ast’ware “inoefen” om geestelik sterk te wees. In 2 Timoteus 3:14-17 beklemtoon Paulus iets van die belangrikheid van die Bybel:

2 Tim 3:14– 17  Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek,sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.

Daar is drie punte wat ek en jy uit hierdie skrifgedeelte kan leer:

Die Bybel is Lewend en Kragtig

Baie van ons het ’n redelike goeie kennis van die Bybel. Ons het as kinders geleer van Simson en Dawid en talle ander geloofshelde. Soos ek genoem het, het die meeste ’n algemene kennis van die Bybel. Daar is egter ’n wesenlike verskil om bloot net ’n algemene kennis van die Bybel te hê en om waarlik te leef soos die Bybel ons leer. Paulus noem aan die begin van vers veertien aan Timoteus dat hy moet bly by wat hy geleer het. Dit is belangrik vir ons as kinders van die Here om te hou by die Bybel en wat ons daarin leer. Die Here Jesus het ook gesê “Julle dwaal omdat julle die skrifte nie ken nie” (Mat 22 : 29). Die Bybel is Heilig, die waarheid en daar is geen ander boek soos die Bybel nie.

Ek dink baie sal saam met my stem as ek sê dat ek kan getuig van baie kere wat ek die Bybel lees en dan voel dit asof daardie gedeelte direk op my van toepassing is en dan is ek weer opnuut in verwondering oor hoe lewend en kragtig die woord is. Die Bybel leer ons hoe om reg te lewe(Psalm 119 : 105).

 

Die Bybel leer ons van Jesus

As jy meer wil leer van die Here Jesus is die Bybel beslis die regte bron om dit te doen. In die Bybel leer jy oor verlossing wat Jesus bewerkstellig het. In die Bybel leer jy dat Jesus aan die kruis gesterf het vir ons sondes. Die Bybel is Christus gesentreerd. Die Bybel leer jou meer en meer wie Jesus is. Dit is ook belangrik om te weet dat om die Bybel lees maak nie dat jy hemel toe gaan nie. Bekering en die aanvaarding van Jesus Christus as jou redder doen. Wanneer jy jou Bybel lees, leer jy meer en meer ken wie Jesus is en hoe wonderlik en groot Hy is en hoe lief Hy jou het.

Die Bybel help om jou te verander

’n Bekende Suid-Afrikaanse Evangelis Louis Malherbe het een keer gesê: Die Bybel is die handleiding vir die mens. In Psalm 119:11 skryf die psalm digter  Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie. Die Bybel leer ons oor verskillende dinge soos geld, vriende, sonde die huwelik en verskeie ander. Hoe meer jy die Bybel lees hoe meer besef ’n mens wat die Here van jou verwag as Sy kind. Dit veroorsaak dat jy jou lewe verander om aan die Here gehoorsaam te wees en om Hom te verheerlik met jou lewe. Die Bybel leer jou wat verkeerd is en hoe om die verkeerde reg te stel. Ons as kinders van die Here leef nie vir onsself nie, ons leef vir Christus. Daar is ’n legio van mense wat getuig het hoe hulle lewens radikaal verander is en hoe die Bybel hulle gehelp het om geestelik te groei.

Ek wil jou uitdaag en bemoedig om die Bybel op te neem en te lees en te leer en te groei. En dit alles tot verheerliking van Jesus Christus onse Here.