Wat Ons Glo

  1. God
    • Die Vader
    • Jesus Christus
    • Heilige Gees
  2. Die Bybel
  3. Teologiese Beginsels
Die Woord Is die Lig op jou Pad

God:

Ons in die Baptiste Kerk glo dat daar net een God is. Ons glo dat God wesensmatig een is, maar dat Hy Homself in drie persone openbaar. Ons glo dat Hy vol is van liefde en genade.

  • Die Vader

Ons glo dat God Homself deur Sy Woord en in Sy Seun openbaar. Ons glo dat God Sy Seun, in volle meegevoel met ons, na hierdie wêreld gestuur het om in ons plek vir ons sondes te sterwe. (Joh. 3:16; Jes.53:4-6; Joh. 1:29 en Jak. 1:17)

God deel nie Sy eer met enigeen nie, daarom glo ons dat alle eer, lof en aanbidding slegs aan Hom toekom.

  • Jesus Christus

Ons glo dat alles wat ons het, uit genade verkry is deur die dood van Jesus Christus – die vleesgeworde Woord van God, volledig mens, maar ook volkome God – aan die kruis. Ons glo dat Jesus aan die kruis gesterf het sodat ons in ewigheid saam met die Vader kan leef, dat Hy op die derde dag uit die dood opgestaan het waarna Hy aan verskeie van Sy dissipels verskyn het. Ons glo dat Jesus opgevaar het na die Vader, om vir ons ‘n plek te gaan voorberei. En kyk, Hy kom gou om ons te kom haal sodat ons by Hom kan wees en deel kan hê aan Sy ewige heerlikheid.

  1. Ons in die Baptiste Kerk glo dat die Here Jesus Christus van ewig af saam met God bestaan. (Joh. 1:1)
  2. Ons glo dat alles wat bestaan in die hemel en op die aarde, deur Hom geskep is en deur Hom in stand gehou word. (Joh. 1:1-3)
  3. Ons glo dat die Heilige Gees, Jesus in die maagd Maria verwek het. (Matt. 1:20; Luk. 1:35)
  4. Ons glo dat Hy die beloofde Messias is. Die Verlosser van die wêreld. Dit is Hy, Jesus wat die sonder van die wêreld weggedra het. (Joh. 1:29)
  5. Ons glo in die Baptiste Kerk dat die Here Jesus ‘n volmaakte verlossing met Sy kruisdood bewerk het. (Heb. 10:10-14).
  6. Ons glo dat die Here Jesus die skuldbrief met sy eise teen ons vernietig het. (Kol. 2:14)
  7. Ons glo dat die Here Jesus Christus die Hoof van die Kerk is en dat die Kerk Sy liggaam is. (Ef. 1:22-23)
  8. Ons glo dat die Here Jesus Sy gemeente via Sy Woord en Sy Gees bestuur.
  9. Ons glo dat die Here Jesus Christus die belangrikste persoon in die Gemeente is.
  10. Ons moet Hom volg en Hom eer. Ons moet Hom in die oog hou. (1 Petr. 2:21; Heb. 12:2)
  11. Ons glo dat die Here Jesus in mag en in heerlikheid na hierdie wêreld sal terugkom om dié te kom haal wat aan Hom behoort. (Joh. 14:1-3)

Christus is die algenoegsame, volmaakte Offer wat die Vader gegee het om vir die sondes van Sy kinders te betaal. Deur Hom is ons nou in ‘n volmaakte verhouding met die Vader.

  • Heilige Gees
  1. Ons in die Baptiste Kerk glo dat die Heilige Gees ‘n persoon is. Hy het persoons-eienskappe. (Ef. 4:30 en Hand. 5:3-4)
  2. Ons glo dat die Heilige Gees saam met God die Vader en die Here Jesus Christus aktief betrokke was by die skepping van die hemel en die aarde. (Gen. 1:1-4)
  3. Ons in die Baptiste Kerk glo dat die Heilige Gees verantwoordelik was vir die inspirasie van die Bybel. Ons glo dat die Heilige Gees mense gelei het om sonder foute God se Woord neer te skryf. (2 Tim. 3:15-17)
  4. Ons glo dat die Heilige Gees ‘n besondere gawe van God is. Dit is Sy werk om mense van hulle sonde te oortuig en na Christus te trek. (Joh. 6:44 en Joh. 16:8)
  5. Ons glo dat dit die Heilige Gees is wat die weergeboorte bewerk. Dit is Hy wat mense nuut maak. (Joh. 3:3,5,7; 2 Kor. 5:17)
  6. Ons glo dat dit die werk van die Heilige Gees is om mense te bekragtig vir dienswerk en hulle te heilig.
  7. Ons glo dat dit die werk van die Heilige Gees is om Jesus te verheerlik en so mense na Hom toe te trek. (Joh. 6:44 en Joh. 12:32)
  8. Ons glo dat die Heilige Gees lidmate en ook Gemeentes met gawes wil verryk. (Rom. 12:6-8; Ef. 4:11-13; 1 Petr. 4:10)

 

Die Bybel:

Ons glo dat die Bybel die gesaghebbende, onfeilbare Woord van God is en dat niemand insig kan hê in die Woord , of Geestelike krag kan ervaar in sy lewe, as die Heilige Gees hom nie daarin bystaan nie.

Ons verkondig slegs die Woord van God, want dit is al wat nodig is vir die redding van siele. Niks wat teenstrydig is met die Woord van God, sal aanvaar word nie.

  1. Ons in die Baptiste Kerk glo dat die Bybel, Genesis tot Openbaring, die Woord van die Here is.
  2. Ons glo dat God Homself en Sy wil in die Woord openbaar.
  3. Ons glo dat die Bybel algenoegsaam is en absoluut gesag moet uitoefen ten opsigte van ons geloofslewe.
  4. Ons glo dat geen ander geskrif op gelyke vlak met die Bybel gestel mag word nie.
  5. Ons glo dat die Bybel nie die produk van mense se eie inisiatief is nie, maar dat die Heilige Gees mense gekies het en hulle gelei het om presies neer te skryf wat God wou hê.
  6. Ons glo gevolglik dat die Kerk volgens die riglyne van die Bybel moet funksioneer. Die Bybel is ‘n lamp vir ons voet en ‘n lig vir ons pad (Ps. 119:105)

Teologiese Beginsels:

  • Teologies streef ons daarna om Christelik-evangelies te wees.
  • Ons is nie Gereformeerd-Calvinisties of Pinkster-Charismaties nie.
  • Ons onderskryf die Bybelse leer van die Drie-Eenheid – Vader, Seun en Heilige Gees
  • Ons glo dat Jesus self ook God is en dat Hy ‘n volmaakte verlossing bewerk het.
  • Hy is die enigste weg. Hy staan sentraal.
  • Ons glo Jesus is die Weg, die Waarheid en die Lewe en dat niemand na die Vader kom behalwe deur Hom nie.
  • Ons glo dat al 66 boeke van die Bybel die Woord van God is.
  • Ons glo dat God Homself en sy wil in die Woord aan ons openbaar.
  • Ons glo dat die kerk uit gelowiges bestaan.
  • Geloof in die Here Jesus en bekering tot Hom is vir ons belangrik.
  • Ons wil graag al ons lidmate tot geloofsekerheid lei en hulle help om geestelik te groei.
  • Ons glo dat die doop en die nagmaal slegs aan gelowiges bedien mag word.
  • Ons glo dus aan die doop van gelowiges na bekering.
  • Doop is egter nie ‘n vereiste vir lidmaatskap nie.