Hoe om Bybelstudie te doen

Aangesien ons as kinders van die Here die Bybel as die Woord van God beskou, is ‘n verantwoordelike omgang met die teks uiters belangrik. Uit die aar dvan die saak is daar verskeie tegnieke en maniere hoe om bybelstudie te doen. Die stappe wat hieronder volg werk goed en is baie effektief. Gaan probeer dit gerus

Stap 1 : Stel vas wat die genre(literatuurtipe) van die betrokke Bybelboek en perikoop is.

Die Literatuurtipe beinvloed ons verstaan van die boek. Soos ons in die lewe van vandag ‘n koerantberig, ‘n storieboek, gedig en ‘n resepteboek verskillend verstaan en benader, so werk dit ook met die boeke van die Bybel. Sekere boeke in die Bybel is verslaggewing van die doen en late van mense, soos bv 1en 2 Konings, 1en 2 Kronieke en Handelinge. Ander gedeeltes is weer gedigte soos die Psalms. Dan is daar wysheidsliteratuur wat in die Ou Testament aangetref word; soos die boek Spreuke. Profetiese literatuur: boeke soos Esegiël, Obadja. Die Boeke Hosea tot Maleagi in die Ou Testament staan ook bekend as die Twaalf klein Proftete. Dan is daar nog briewe wat geskryf is soos Die Briewe aan die gemeente in Korinte(1 en 2 Korintiërs) en Die Briewe aan Timoteus en Titus.

Met ander woorde stel eers vas of die skrifgedeelte(perikoop) wat jy lees of wil verklaar ‘n brief of ‘n gedig of ‘n gelykenis is.

Hier is ‘n lys van basiese genres(literatuurtipes) in die skrif:

  • Juridiese(Wetlike) Literatuur. Maw die wetboeke. bv Levitikus
  • Profetiese Literatuur bv Obadja
  • Wysheidsliteratuur bv Spreuke
  • Poësie bv Psalms
  • Briewe bv Timoteus
  • Gelykenisse(storievertelling met ‘n boodskap) bv Matteus
  • Apokaliptiese Literatuur (Profesie oor die laaste oordeel) Daniël en Openbaring 

Stap 2 : Wie het die boek geskryf ?

Dit is belangrik om te weet wie is die skrywer van die boek of skrifgedeelte(perikoop) wat jy lees.

Stap 3 : Stel vas wat die historiese agtergrond van die teks is.

Die historiese agtergrond is baie belangrik. Die Bybel is geskryf deur mense met ‘n spesifieke kultuur, wêreldbeeld en binne bepaalde historiese omstandighede.Ja, die Bybel is deur die Gees van God geinspireer, maar dit het nie kant en klaar uit die lug geval nie. Dit is God se woord, maar in die taal van mense, in die omstandighede van mense. ‘n Goeie komentaar soos die Bybel in Praktyk, die Verklarende Bybel of Bybel verklaar en die Bybellenium kan baie hiermee help.

Stap 4 : Stel vas wat die Makro sruktuur van die boek is.

Die boeke in die Bybel is nie sommer ‘n sinnelose “samevoeging” van idees nie. Die eindproduk van elke Bybelboek is die sinvolle struktuur.Weer eens bevat elke goeie kommentaar hierdie inligting.

Stap 5 : Stel vas wat die teologiese beklemtonings van van die boek is.

Verskillende skrywers het verskillende teologiese beklemtonings gehad, een skrywer het in elke ander boek ‘n ander klem gehad. Onthou dat die Bybel geskryf is om ‘n boodskap weer te gee. Hierdie inligting is ook verkrygbaar in ‘n goeie kommentaar soos reeds gemeld is.

Stap 6 : Kyk na die hoofstukke wat die bepaalde perikoop omring en kyk hoe pas dit binne die groter geheel in. 

Stap 7 : Stel vas wat die sentrale boodskap, asook mees praktiese indeling van die perikoop is.

Onhou dat die Skrifgedeelte(perikoop) wat jy hanteer nie in isolasie bestaan nie, maar binne ‘n groter geheel. Hoofstuk en vers afbakening is iets wat kunsmatig in die skrif ingebring is.

Stap 8 : Vers vir vers verklaring

‘n Goeie kommentaar kan hier van groot hulp wees.

Stap 9 : Wat beteken dit vir My?

Sonder hierdie laaste stap is jou eksegese onafgehandeld. God het die Bybel vir ons gegee sodat ons Sy wil kan leerken, en sodat ons Hom beter kan ken.

Slotwoorde 

Onthou eerstens dat goeie eksegese(verklaring) altyd harde werk is. Dit is nie so maklik nie. Goeie eksegese is boude-werk, dit kos jou om te gaan sit en navorsing doen. Alles is die moeite werd!!!

Die belangrikheid van ‘n goeie kommentaar kan nie oor beklemtoon word nie; ‘n goeie kommentaar is van onskatbare waarde. En natuurlik My persoonlike gunsteling Sola Scriptura : Die Skrif alleen.

Ek wil afsluit met die woorde van Psalm 119:11  “Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.”

Ds Jaco Dercksen (leraar@diekerk.co.za)