Kry jou krag by die Here

Kry jou krag by die Here
Jesaja 40:29  Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. 

Voel jy moeg, afgemat soos ’n teesakkie wat al ’n paar keer gebruik is en niks meer het om te gee nie? In die lewe van vandag kry baie mense werklik swaar. Die land se ekonomie doen swak, werk is skaars, besighede sukkel en baie mense voel asof daar geen hoop meer is nie. Dan gebeur dit ook dat daar een of ander krisis sy kop uitsteek, die yskas breek, die kar se enjin liggie flikker al ’n week lank en jy sê vir jouself ek het nie meer die krag hiervoor nie.

Dit is juis in tye soos hierdie waar ’n mens se geloof moet “inskop”. In die bogenoemde vers lees ons dat die Here Sy volk verseker dat Hy vir hulle weer krag sal gee. As ’n mens Jesaja hoofstuk 40 lees dan kan jy duidelik sien dat die volk het goeie nuus ontvang. Die einde van hulle ballingskap is insig. Hulle was vir 70 jaar in Ballingskap gewees. Dit was vir hulle baie swaar gewees om in ’n ander land as gevangenes te wees.

Dit is belangrik dat jy weer sal onthou wie jou God is en wat Hy vir jou kan doen. Baie keer gebeur dit dat jy voel dinge is net te erg, die berg is te hoog om te klim en jy is op moedverloor se vlakte. Onthou wat sê die Here, Hy sal vir jou die krag gee om aan te gaan. Ons lees in “Filippense 4:13  Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Wat belangrik is in sulke tye dat jy sal besef jy moet jou krag by die Here kry. Vra vir die Here om jou deur hierdie tyd te versterk en jy sal verbaas wees oor wat Hy vir jou kan doen.

Ek wil afsluit met volgende: Ons moet onthou dat hier op aarde gebeur slegte goed met ons as mens. Dit beteken nie dat jy as kind van die Here is gevrywaar van siektes, misdaad ens. nie. Die Here Jesus het self gesê in hierdie wêreld sal ons dit moeilik hê. Johannes 16:33  Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” Moeilike tye sal daar wees. Al wat ek en jy kan doen, is om in hierdie tye ons krag by die Here te kry en te weet Hy is God, Hy bly in beheer al gebeur wat.

Ds. Jaco Dercksen (leraar@diekerk.co.za)